deur
Bernard Venter |
|
Geluk by die ongeluk bring vir Johan ‘n nuwe motor in die sak!
Ware hengelaars bly maar ‘n unieke spesie. Ondanks uiters
ongunstige hengeltoestande, in reën en koue, daag daar nog ‘n
duisendstuks hengelaars by die Vaaldam Bonanza by Jim Fouche
vakansie-oord op. Geen wonder dat Jesus dit goedgedink het om uit
vissermanne sy dissipels bymekaar te maak. Terloops, die vissermanne
in die Bybel se tyd het bekendgestaan as die “seuns van die donder”,
omdat hulle sulke geharde en onverskrokke mense was. Ek dink ons
sien hierdie eienskappe in baie van ons hedendaagse hengelaars.
Mense met uithouvermoë wat selfs teen die verwagting, wanneer
hengeltoestande ongustig blyk te wees, sal aanhou probeer om hulle
sport te beoefen. Miskien is dit juis hierdie eienskappe wat
hengelaars sulke merkwaardige mense in ons samelewing maak.
|

Jaco Venter met die wenvis |
Die hengelaars wat die Vaaldam Bonanza bygewoon het, is egter met
mooi vis en goeie pryse beloon. Ons land het die reën baie nodig
gehad en dit was miskien ‘n gelykmaker tussen die deelnemers. Die
vis het heel skaflik uitgekom, met heelwat karps tussen 5-6 kg en ‘n
paar wat amper 7kg gemaak het. Die babers was kleiner as vorige jare
met Jaco Venter, se baber van 14 kg die grootste. Die toernooirekord
staan op bykans 23kg, so twee jaar terug deur Joe Mitton gevang. Dit
was goed om weer ‘n slag die eerste prys, ‘n Focus Centre Console
motorboot geborg deur Boat, Carvan and Camping (Nigel) en Yamaha,
aan ‘n oewerhengelaar te oorhandig. Die eer het Jaco Venter te beurt
geval. Hy het sy baber met ‘n karp viskop gevang. En die geheim
volgens Jaco is om diep in te gooi en en die aas lank te laat lê!
Die “Big Banger” prys is vir ‘n tweede jaar in ‘n ry by die Vaaldam
Bonanza gewen! Johan Roodt kon sy oë nie glo toe hy ‘n splinternuwe
Kia Shuma II, geborg deur Kia Motors (Vereeniging), wen. Om die prys
te wen, moes ‘n hengelaar ‘n karp met ‘n spesifieke gewig wat tydens
die prysuitdeling getrek is, vang. Die geluk het Johan met sy mooi
karp van 5,12kg te beurt geval. Johan kon sy geluk nie glo want sy
motorboot het op die water onklaar geraak en was dit nie vir sy
broer Herman wat hom terug getou het nie, sou hy nooit die wenvis
kon weeg om die motor te wen nie!
Een van die heel beste pryse by vanjaar se Vaaldam Bonanza was die
oulike Moway sleepwaentjie. Die bakwerk van die Moway sleepwaentjies
word van duursame polymeer, ‘n soort van plastiek – net baie meer
duursaam, gebou. Ek was aangenaam verras met die nuwe generasie
sleepwaentjie. Dit is eerstens ligter en stewiger as die
konvensionele staalplaat sleepwaentjie, roesvry, gebou op ‘n stewige
basis en beskikbaar in ‘n groot verskeidenheid kleure en modelle.
Laastens is dit boonop goedkoper as meeste konvensionele
sleepwaentjies. Die gelukkige wenner van die Moway sleepwaentjie was
W Olivier.
Soos al gebruiklik by Eko-Care hengelkompetisies was die Eko-Care
Hengeltabel weer gebruik. Die voordeel wat die hengeltabel inhou, is
die geleentheid wat dit aan hengelaars gee om vir karp, baber of
moddervis te hengel en met enige een van die visspesies die groot
prys te kan wen. Vanjaar is 11 van die 20 pryse gewen deur karps,
een deur ‘n moddervis en nege deur babers. Die organiseerders het
die eerste 20 pryse gelykop gedeel in tien vir oewerhengelaars en
tien vir boothengelaars. Aangesien sekere visspesies, soos babers,
die vorige Bloemhofdam Bonanza oorheers het, is besluit om voortaan
by damme waar dit nodig is, addisionele punte aan ander visspesies
soos karp toe te ken.
Ons het weereens daarin geslaag om danksy ons borge uitstekende
pryse by die Vaaldam Bonanza toe te ken. Afgesien van reeds gemelde
borge dink ons aan ou staatmaker borge soos Shimano, Conoflex,
Double XX, Pertec Intenational, MG Angling, Makro, Paindane, Holiday
Club, Dolphin Fishing Tackle, Fuch Lubricants, Standard Foundary,
Multipin, Fast Sails, NCS Resins, maar ook aan nuwes wat bygekom
het, soos, Front Runner 4X4, Kingfisher, Daiwa, Surecatch en Mias.
 |

Links: Terwyl die hengelaars
vis vang
soos die een deur Lourens Swanepoel,
hou die gesin hulself besig (bo) met ander
aktiwiteite wat Jim Fouche oord ook bied. |
Sonder hengelaars en borge kan daar nie ‘n hengeltoernooi wees nie.
Goed georganiseerde hengeltoernooie is van groot belang vir die
groei van die hengelsport. As organiseerders van die grootste en
mees suksesvolle binnelandse hengeltoernooie kan ons daarvan getuig
hoeveel nuwe bloed met sulke hengeltoernooie in die hengelbedryf
invloei. ‘n Groot hengeltoernooi wek ongekende belangstelling
landswyd en letterlik honderde navrae word vooraf, veral van nuwe
hengelaars ontvang wat skielik lus kry om na die hengelkompetisie te
gaan. Hengelwinkels kan getuig van die nuwe voete (en ou klante) wat
opdaag om hengelkaartjies by die afsetpunte, gewoonlik
hengelwinkels, te koop. Sodoende word omset verhoog, hengelwinkel
baat daarby asook die verskaffers (ons borge) wat weer die
hengelwinkels bedien. Hengelaars is die kopersmark wat graag ons
borge ondersteun. Hulle sien wie die borge by ons hengeltoernooie is
en sien dat ons borge hulle sport ondersteun. Sonder goed
georganiseerde hengeltoernooie sal die hengelsport ‘n groot
bemarkingsgeleentheid mis en verseker veel armer daaraan toe wees.
Die voorwaarde is egter om dit goed georganiseerd te kan doen. Daar
is ongelukkig te veel hengeltoernooie wat nie aan die standaard
voldoen nie en ‘n verleentheid vir die hengelsport is.
Tydens vanjaar se Vaaldam Bonanza is besondere moeite gedoen om deur
middel van persoonlike onderhoude met ons deelnemers vas te stel wat
hulle van sulke hengeltoernooie verwag en wat ons kan doen om dit
meer suksesvol aan te bied. Die goeie nuus is dat ons net
komplimente van 90% van die deelnemers ontvang het. Die voorstelle
wat vanaf die deelnemers ontvang is, sal ons by toekomstige
hengeltoernooie implimenteer.
|

Die Focuz boot is deur Jaco
Venter (Oewer) gewen met 'n baber van van 14,63 kg |
|

Die Kia Shuma II is deur Johan
Roodt (Boot) gewen met 'n karp van 5,12 kg |
Die Vaaldam Bonanza is deur Eko-Care Trust en Gauteng LGB aangebied.
Die fondse wat gemaak is, is aangewend vir
omgewingsbewaringsprojekte en die bevordering van die hengelsport.
Vir meer inligting oor die toernooi kan lesers gerus op die webwerf
www.outdoorpages.co.za gaan loer. Die SAPS Watervleuel Oranjeville
en Ambulansdienste Frankfort word bedank vir hulle onbaatsugtige
dienste.
|

Gilbert Foxcroft (voor) en 'n
span ervare spesie karphengelaars het die jaar ook
aan die Bonanza deelgeneem. |
Die SPAR Bloemhofdam Bonanza wat ook deur Eko-Care Trust gereël
word, vind vanaf 24-26 September 2004 plaas. Dit gaan vanjaar uit
twee opeenvolgende (back to back) hengelkompetisies bestaan. Op die
Vrydag begin die eerste hengeltoernooi met ‘n spanne kompetisie.
Enige vier mense kan ‘n span vorm. Op Saterdag volg die groot
Bonanza tot Sondag. Vanjaar is daar ‘n spesiale afdeling vir vrouens
en juniors met groot pryse as deel van die Bonanza. Sien die volblad
advertensie in Stywe Lyne vir meer besonderhede. Moet dit nie
misloop nie!
|