|
Die basiese formule vir sukses met enige
tipe hengel is “Vis + Opsporing + Aanbieding = Sukses”,
naamlik jy moet die gewoontes van die teiken spesie goed
genoeg ken om dit in verskillende seisoene op te spoor, en
dan moet die regte aas op die regte manier aangebied word.
Dit is presies dieselfde met baber, en elke afdeling van die
formule is ewe belangrik. Om die “Vis en Opsporing”
afdelings toe te pas moet die hengelaar ten minste ‘n
praktiese kennis van die vis se lewenssiklus en gewoontes
aanleer, naamlik spesie kennis.
Die Latynse benaming is Clarias gariepinus. In suider-Afrika
kom ses Clarias spesies voor, naamlik die Skerptandbaber,
ons hoofteiken, Stomptandbaber (Clarias ngamensis), Gevlekte
baber (Clarias stappersii), Sagkopbaber (Clarias
liocephalus), Slangbaber (Clarias theodorae) en Spelonkbaber
(Clarias cavernicola).
Van die ses is dit net die Skerptandbaber wat as ‘n
sporthengelvis gereken kan word, alhoewel die
Stomptandbaber, wat in die noordelike dele van Kwazulu-Natal
en die Laeveld voorkom, somtyds ook gevang word daar hy baie
dieselfde weipatroon as die Skerptandbaber het. Die vis is
baie kleiner as die skerptand en word net so 730mm lank en
niks swaarder as 4kg nie.
Ons teiken, die Skerptandbaber, is moontlik die mees
verspreide vis in Afrika. Dit word vanaf die Nyl in die
noorde tot die Vaal/Oranje sisteme aangetref, en is ook in
die Kaap uitgeplaas waar dit nie inheems is nie. Dit word
ook in Israel, Libanon en Turkye aangetref.
Die baber leen hom uitstekend tot kommersiële visboerdery en
is ook met die Vundu van Zimbabwe vir hierdie doel
gekruisteel.
Die skerptand het ‘n plat, harde, benerige kop en is
toegerus met ‘n orgaan om ook lug te kan inasem. Vier pare
“snorre” rondom die bek word as reuk en smaak organe
gebruik. Die belangrikste is egter dat die snorre, wat baie
sensitief vir trillings in die water is, ook gebruik word om
prooi op te spoor.
Die bek is wyd en altwee kakebene het rye klein, skerp
tandjies. Die rug en syvinne het ‘n lang, skerp pen aan die
voorkant. Die kleur is gewoonlik swart maar afhangende van
die water ook ligbruin tot amper grys. In die laer
Oranjerivier is die groot babers amper wit. Dit het geen
skubbe nie. Babers het die vermoë om op land te “kruip”,
soos wanneer ‘n poel opdroog en hulle na ‘n ander een toe
moet verskuif.
Dit is ‘n omnivoor en sal op enige organiese materiaal wei,
soos vis, voëls, paddas, slakke, krappe, garnale, insekte,
klein diere asook sade en vrugte.
Alhoewel ‘n baber vars kos verkies, sal dit ook op dooie
diere aas. Babers vorm skole om klein visse in vlak water
aan te keer.
Die baber se lyf is plat onder en skerper na bo, amper
driehoekig. Die stertvin is gelyk en nie gevurk nie, wat
aandui dat dit nie soseer vir spoed gebou is nie. Sy
ligaamsbou dui ook aan dat dit naby die bodem rondbeweeg.
Broeityd is na die eerste reëns in die somer wanneer die
volwasse vis na die kante van riviere en damme toe beweeg.
Eiers word bo-op plant materiaal gestort en die jong vissies
verskyn na ongeveer 30 tot 40 ure. Binne drie dae begin die
klein vissies vryelik rondswem. Na ‘n jaar is hulle so 200mm
lank maar nog groter as toestande baie gunstig is. Na drie
jaar neem die groei tempo van die wyfies af en net die
manlike vis word groter. Babers kan na een jaar geslagryp
wees maar dit kan ook twee tot drie jaar neem.
Die baber word nie as ‘n bedreigde spesie beskou nie en
gevolglik is daar geen sak of lengte beperkings nie. Dit is
hoog op die voedsel ketting. Sy natuurlike vyande is,
behalwe die mens self, krokodille, voëls en luiperds.
WAAR EN WANNEER
‘n Baber het duidelike gedragspatrone wat min of meer met
die vier seisoene saamval. Die seisoene bepaal die
temperatuur en suurstof gehalte van die water,
beskikbaarheid van kos en lewensruimte.
Gedurende die somermaande is hulle baie meer aktief met ‘n
hoë metabolisme wat afneem namate die water gedurende die
herfs en winter koeler word. Maar ‘n baber gaan nie in ‘n
winterslaap nie, en moet nogtans kos inkry alhoewel baie
minder.
Die vier seisoene het op hul beurt sub-seisoene wat almal ‘n
invloed op die baber se gedragspatroon uitoefen. Geen
duidelike afbakening van die tye bestaan nie, omdat damme en
riviere in verskillende landsdele val. Daar kan ook in ‘n
dam verskillende diepte, temperatuur en kleur wees.
LENTE
Volgens die almanak begin die lente op 1 September, maar
in die natuur beteken dit enige tyd voor of na hierdie
datum.
Hierdie tydperk het weer drie onder-seisoene, naamlik voor
broeityd, die broeityd self, en ‘n oorgangsperiode.
Die periode net voor broeityd is gekenmerk deur dae wat al
hoe langer begin word en water temperature wat stadig bokant
die laagtepunt van die winter begin klim, so na omtrent 12°C
tot 15°C. Babers begin nou stadig vanuit hulle
oorwinteringsplekke na die vlakker water toe beweeg. Die
beweging is egter sporadies van aard en vis sal eendag in
vlakker water wees en weer die volgende dag in dieper water,
veral as daar ‘n laat kouefront oor beweeg het. Aasvissies
en ander kossoorte is nog nie volop nie en plante wat
gedurende die winter gevrek het, het nog net begin om weer
te groei.

André Dicks met 'n ±6kg baber
gevang in die periode net voor
die amptelike broei tydperk |
Die beste tye gedurende hierdie periode is laatmiddag in
vlak sloepe en plate op die suide en suid-oostelike oewers
van damme, veral waar daar plante soos riete, ens. in die
water is. Dit is hierdie dele wat eerste en die warmste
word. In vloeiende riviere moet vlakkerige sytakke en inlope
gesoek word.
Hierdie periode word ook gekenmerk deur die beperkte
uitbroei van sekere insekte en ander waterdiere wat hul
verskyning begin maak.
Alhoewel die kos voorraad nog beperk is, is die baber se
eetlus deur die verwarming aangewakker, en na die hongerly
van die winter is hulle gretig op soek na kos. Energie moet
ook opgebou word vir die broeitydperk wat voorlê. Omrede die
kos nog skaars is, is kompetisie vir kos baie intens, wat
tot die voordeel van hengelaars is.
Omdat die natuurlike kosbronne nog klein is, is klein ase
aan te beveel. Klein insekte soos swart krieke, kakkerlakke,
miswurms, meelwurms en stukkies bebroeide kuikens kan goeie
sukses behaal, terwyl ‘n loodkop ook met sukses aangewend
kan word. Gebruik daarmee saam ‘n lokvoer gemaak van bloed
en afval. Bloed op sy eie is dodelik as lokmiddel. Nes haaie
kan baber die reuk van bloed gladnie weerstaan nie. Gooi
mildelik oor jou lokbolle en aas om ‘n sterk lokreuk te
voorsien.
Afhangende van plaaslike toestande volg die broeitydperk
wanneer die temperatuur bokant 18°C styg en wanneer reëns
die watervlak laat styg het. Geslagsryp, volwasse babers,
beweeg in groot skole kante toe waar die wyfies hul eiers op
plant materiaal in baie vlak water stort om deur die
mannetjie bevrug te word.

Die foto is 'n voorbeeld
van
die beserings wat babers kan
opdoen agv onwettige
praktyke |
Die verskynsel van honderde babers in ‘n wriemelende massa
in baie vlak water, soms tot buite op die oewer, is vir
hengelaars bekend, en ook frusterend. Alhoewel die babers
nou sigbaar is, vat hulle omtrent aan geen aas nie – die
voortplanting van die spesies is al wat by hulle nou tel.
In hierdie tydperk is babers baie vatbaar vir onwettige
praktyke. Vurke, spiese en grawe word gebruik om die babers
dood te steek, en sommiges gebruik groot drie-angelhoeke om
hulle mee te haak. Altwee praktyke is onwettig – en vir ‘n
hengelaar ook heeltemal oneties!
Die reeks vervolg in Baber Hengel - Deel 2
Lesers wat sukkel om baber lokvoer of bloed in die hande te
kry is welkom om die skrywer te kontak by
henkor@absamail.co.za
of Tel: 012-3320179 (k/u).
|