|
Of mens die mees eenvoudigste manier van hengel – ‘n bos
erdwurms onder ‘n rooi en wit dobber – of meer gevorderde
kunsaas tegnieke toepas, bly kurperhengel ‘n fees.
Alhoewel kurpers al vanaf September gevang word is Februarie
tot April in die warmer, noord en oostelike dele van die
land prima kurpertyd. Blou kurpers van een kilogram en
swaarder is veral die teiken in talle riviere en damme in
Mpumalanga, Noord-wes, Noordelike Provinsie en
KwaZulu-Natal. En omrede die blou kurper so ‘n uithaler
sportvis op ligtegerei is, en ook omdat hy ‘n voortreflike
tafelvis is, is hy al lankal onwettig verplaas na ander dele
van die land waar die winters nie te koud is nie.
So byvoorbeeld is daar ‘n gesonde bevolking blou kurpers in
Zeekoeivlei op die Kaapse skiereiland, asook in verskeie
plaasdamme in die wynland. En omdat die blou kurper in
soutwater aanpasbaar is, word hy ook deur verbaasde
hengelaars in verskeie getyriviere en monde soos byvoorbeeld
St Lucia raakgeloop terwyl hulle eintlik vir knorders aan te
hengel is.
Daar is ses soorte kurpers in Afrika, maar dit is net die
blou en rooibors kurpers wat vir ons van belang is. Albei is
inheems tot die warmer, laeveld streke, en van die twee is
die blou kurper die gewildste teiken. Gelukkig het die
owerhede al lankal die waarde van die blou kurper ingesien
en ‘n sak beperking van 20 vis per dag ingestel. Die sak
beperking van net 20 per dag is vir sommiges, noem hulle
maar visslagters, baie moelik om te handhaaf. Veral in die
laat somer en vroeë herfs, wanneer kurpers hul liggaamsvet
vir die winter maande opbou en omtrent enige aas in die
water sal gryp, kom sulke uitroei-neigings voor. Dit is in
hierdie tyd dat stories van “so waar as vet, sommer die
hounet twee keer volgemaak – en dit voor middag ete!”
aangehoor moet word. So asof die kurper bevolking vir ewig
sal voortduur sonder dat mense sinvolle bewaring toepas!
Gedurende hierdie “oor-vreet” tydperk kan dit gebeur dat die
kurper se vleis ‘n modderige smaak vanweë al die
plant-materiaal wat verorber word, ontwikkel. Om dit te help
verwyder moet die rugvinne verwyder word en die vis vir
tenminste twee ure in ‘n marinade van suurlemoensap en asyn
of asyn met knoffel en/of rissies geweek word. Maar dit help
nie altyd nie.
So ook kan die smaak van dam tot dam wissel, wat waarskynlik
te doen het met die graad van besoedeling in ‘n dam.
HENGELTEGNIEKE
Kurpers is vryswemmers wat hul kos in die
totale waterdiepte vanaf die bodem tot die oppervlakte soek.
Die basiese tegniek is dus om die aas op verskillende
dieptes met behulp van ‘n gly-dobber, wat op die lyn gestel
kan word, te plaas. Hierdie diepte word aanmekaar aangepas
totdat die diepte vir daardie dag en omstandighede gevind
word.
Ervare kurperhengelaars het te vertel dat die groter vis
meestal na aan of op die bodem gevind word.
So hoekom dan ‘n dobber? Feit van die
saak is dat die byt van ‘n groot kurper baie fyn, oftewel
“skelm”, is. Dus is die gebruik van ‘n dobber voordelig om
die geringste beweging van die aas maklik te sien. Anders as
met karphengel, as mens wag vir ‘n kurper byt om te
“ontwikkel”, is die resultaat net ‘n leë hoek!
Kleiner kurpers is geneig om die aas met ‘n geweldige pluk
aan te val, terwyl as die groottes byt sal die dobber of al
in die rondte beweeg of stadig heen en weer beweeg of effens
na benede getrek word. Partykeer dink die hengelaar dis die
wind. Konsentrasie is dus noodsaaklik, want ‘n groot kurper
kan die aas onder die neus van ‘n niks vermoedende hengelaar
heeltemal afhaal. Sodra die dobber beweeg moet daar
vasgeslaan word. Partykeer sal die vis natuurlik gemis word,
maar daar sal meer kurpers so gevang word as wat verloor
word.
Wees op jou hoede indien jy verkies om stywe lyn te hengel.
Die meeste hengelaars is geneig om in te gooi, die lyn styf
te trek, ‘n poliesman aan te sit en dan op ‘n stoel te wag
dat die kurper byt. Geen byte nie; net die erdwurm wat
geheimsinnig vanaf die hoek verdwyn. “Dis daai verdomde
“kanaries”, die kurper byt nog glad nie” is dan die normale
komentaar.
Verkeerd menere! Die oomblik dat jy ingegooi het, moet jy
met behulp van jou tienvoet stok die lyn so styf as moontlik
hou terwyl jy die lyn vinnig inkatrol tot styf. 50% van die
tyd byt pan-grootte kurpers terwyl die aas nog af beweeg na
die bodem. Deur die lyn styf te hou sal jy nou plukke kan
voel, of dit sal voel of die lyn skielik vashaak. Kap
blitsvinnig.
Met geen byte nie plaas jy nou vinnig jou stok op twee
ruspenne en sit ‘n poliesman aan. Die lyn moet redelik styf
wees. Tel nou jou stok agter op en stoot die stok op die
voorste ruspen nader aan die water sodat die poliesman naby
die oppervlak is. Staan met jou hand op jou stok en hou die
poliesman dop. Die oomblik dat die poliesman op beweeg moet
jy kap. As jy te gou gekap het wag jy die volgende keer net
‘n rapsie langer. Die meeste hengelaars wag gewoonlik
heeltemal te lank voor hulle vaskap.
As die kurpers egter die dag byt is daar nie tyd vir
poliesmanne nie. Gooi die aas in en katrol die lyn vinnig
tot styf. Plaas die stok se punt op die voorste ruspen en
skuif dan die stok vorentoe totdat die lyn ‘n bogie vorm.
Hou die lyn dop en kap dadelik die oomblik dat die lyn
beweeg.
Of gooi die aas in, en katrol die lyn vinnig tot styf. Hou
die stok in die hand en haak die lyn net voor die katrol met
jou wysvinger. Hou die stok so dat die stok en die lyn in ‘n
reguit lyn is. Jy sal nou ‘n sterk trek op die lyn voel –
kap blitsvinnig. As die spanning egter skielik verminder
moet jy ook vinnig vaskap. Dis harde werk maar uiters
doeltreffend.
Probeer ook die “kunsaas” manier. Gooi die aas anderkant die
voerplek en katrol dan baie stadig die aas nader. Partykeer
gryp die kurper die aas en dan vang hy homself. Soms voel
dit of die lyn skielik vashaak. Kap vinnig.
As pangrootte kurper regtig aan die byt is, kap jy die
eerste een vas, maar moenie direk inkatrol nie. Wag ‘n paar
sekondes. Die kans is goed dat nog ‘n kurper op die ander
hoek sal byt. Dan vang jy twee kurpers op ‘n slag!
Waarskynlik maak die gespook van die gehaakte kurper ander
vis nuuskierig en hulle kom kyk waaroor al die bohaai gaan.
Onthou! Moenie daar eenkant sit en wag nie. Jy sal nooit ‘n
kurper vang nie. Kurperhengel is nie vir lui mense nie. Jy
moet op en wakker wees en jou stok oppas. Hou die stok in
jou hand vas – dan kan jy dadelik kap die oomblik dat die
vis byt.
HOEKE en DOBBERS
Gebruik 2.5 tot 4.5 kilogram sagte lyn en
chemies skerpgemaakte hoekke met weerhakkies aan die steel
om die aas stewig vas te hou. My gunsteling is die kort
steel Mustad 92155 in groottes 1 tot 4 maar die lang steel
Mustad 92247 in groottes 1/0 tot 4 is ook populêr. Pas jou
hoekgrootte aan by die kurpers se grootte wat gevang word.
Moenie te klein hoekies gebruik nie. Kurpers het groot monde
en met te klein hoekies gaan jy die groot bloues miskap.
Daar is ‘n groot verskeidenheid gly
dobbers geskik vir kurperhengel beskikbaar by hengel
winkels. Gebruik ‘n dobber wat net groot en swaar genoeg is
vir die afstand wat jy wil gooi, maar natuurlik groot genoeg
dat jy dit sonder inspanning kan sien.
STROPPE
Die strop vir kurperhengel is heel
eenvoudig. Dis die ou bekende boer (vaaldam) strop met twee
hoeke wat onder mekaar hang met ‘n klein sinker (of veer)
aan die onderkant vir stywe lyn hengel of ‘n paar “split
shots” aan die onderkant, net om die dobber reg-op te trek.
Die belangrikste is dat die hoek-stroppies kort moet wees,
niks langer as 10cm nie maar verkieslik tussen 4 en 6cm.
Die rede hiervoor is dat die byt met ‘n kort stroppie
vinniger raakgesien kan word. ‘n Verstelbare gly dobber word
aan die hooflyn geheg sodat die diepte wat die aas in die
water is, daarmee gestel kan word.
Tydens ‘n hengelsessie by Renosterkop het ek net mooi gatvol
geraak vir die baie vassit, en my strop verander na ‘n gly
“baby shoes”. Ek het toe heelwat minder vas gehaak aan al
die bome en takke en kon dus baie meer vis land. Moet jou
dus nie blind staar teen ‘n spesifieke strop nie.
Eksperimenteer gerus.
LOKVOER
Net soos vir enige ander varswater vis,
word lokvoer gebruik om die kurper na die aas te lok.
Lokvoer vir kurper is natuurlik maroek, wat verkry word met
die verbrouing van hoofsaaklik alkoholiese drankies.
Verskillende brouerye maak verskillende tipes drankies;
voorbeelde hiervan is tradisionele swartmark bier, vaatjie
bier en magou (sonder alkohol).
Hulle gebruik verskillende graan soorte soos wit sorghum,
rooi sorghum, mielies, gars ens. Dus verskil die brouerye se
maroek ook in tekstuur (fyn tot grof); kleur (geel,
rooibruin en donkerbruin); en geur (soet tot suur).
Ek meng gewoonlik sorghum maroek afkomstig vanaf formele en
informele brouerye. Dié mengsel het fyn deeltjies wat
beweging in die water verskaf om die kurper se aandag te
trek en growwe deeltjies om die skool in die omgewing van
jou aas te hou. Omdat sorghum maroek vanaf die brouery nie
altyd ‘n skerp reuk het nie, behandel ek dit ook met ekstra
gis en bier. Dit word dan in die son geplaas om die reuk te
verbeter. Hoe sterker die gis ruik hoe vinniger word kurper
gelok; en natuurlik hoef die hengelaar dan nie meer so
uitermatig baie maroek in die water te gooi nie.
Wat baie hengelaars nie weet nie is dat mielie maroek, met
‘n suur gis reuk, ook beskikbaar is. Mielie maroek het ‘n
fyn tot growwe tekstuur en wit/geel kleur wat ‘n melkerige
wolk veroorsaak in die voer-area; dis baie goed vir
moddervis en werk somtyds beter as sorghum maroek vir
kurper. Beproef gerus ‘n mengsel van sorghum en mielie
maroek – Dis dodelik!
Kap gerus so ‘n handvol of twee rooi erdwurms in klein
stukkies en meng dit saam die maroek. Daardie ekstra wurm
reuk doen baie keer die ding.
Probeer ook wit rys, hard gekook, saam met maroek en gebruik
erdwurm en wit pap as aas. Miskien dink die vis die rys is
maaiers of iets soortgelyks. Dis hoe van my Sjinese klante
jaar na jaar by Roodeplaat (naby Pretoria) hengel en hulle
kán kurper vang. Geen mombakkies vir hulle nie.
Willie Kombrink van Pretoria Noord meng hoender bloed met sy
maroek. Alhoewel hoender bloed gewoonlik vir baber en karp
gebruik word reken hy die sterk bloed/maroek mengsel lok
konstant meer maar veral groter bloues.
“Parrot greens” pellets, oorspronklik vir voëls, word ook
saam maroek gebruik. Dis gemaak van plantaardige materiaal
(alge, seewier, lusern ens.) wat natuurlike kos vir kurper
is. Lok die kurper met maroek en hou hulle dan by jou aas
deur ‘n handvol pellets elke nou en dan in die voer-area te
gooi. Saam met “Parrot greens” gebruik jy CSL pellets om
kurper se eetlus aan te wakker. Dié voermengsel lewer al vir
‘n paar seisoene goeie resultate.
As jy vir ‘n paar aaneenlopende dae op dieselfde plek gaan
hengel plaas jy die eerste dag een of meer “Tigernut /
Betaine voerblokke” in die water. Daarna voer jy met maroek,
“Parrot greens” en CSL. Dis kookwater!
Teen sowat R10.00 per kilogram en ses keer taaier as
koekmeel is mielie stysel ongetwyfeld die beste bind middel
vir maroek. En dis natuurlik ook die antwoord vir karpvoer
wat jy gereeld afgooi.
Maroek wat jy nie opgebruik nie kan vir weke gestoor word in
‘n lugdigte plastiese emmer. Net die boonste een of twee
sentimeter sal dan miskien sleg word; krap dit dan net af en
gebruik die res. Solank maroek nie vars lug kry nie, sal dit
nie sommer vrot word nie. En onthou, as maroek nie pikswart
is en ‘n regte vrot reuk het nie, is dit nog nie vrot nie en
sal dit kurper lok!
AAS
Die gewildste hoekaas vir kurper is
lewendige erdwurms. Ek persoonlik verkies die rooi erdwurm;
hulle bly langer lewendig in die water as tuinwurms, en
hulle het ‘n lekker sterk reuk, iets wat kortkom by die
tuinwurm.
Daar is houtkassies beskikbaar wat aan die bokant en
onderkant oopmaak. Erdwurms is geneig om altyd ondertoe te
beweeg. Wanneer jy dus wurms wil uithaal draai jy net die
kassie onderstebo en die wurms is bo-op. Jy hoef dus nie in
die grond rond te krap agter wurms aan nie. Daarmee saam
gaan ‘n “worm bedding” wat vog langer behou as grond en wat
gevolglik jou wurms vir ‘n langer tydperk koel en vars sal
hou. Die wurms bly daarin, hulle kan alles eet want dis kos
en dié bonus: Omdat daar geen grond in is nie word jou hande
gladnie vuil nie. ‘n Pakkie “worm bedding” behoort jou,
tensy jy elke week hengel, die hele kurper seisoen te hou.
Haak net een wurm dat die kop en stert vryelik kan beweeg om
sodoende die kurper te lok of ryg sommer ‘n tros wurms op
enige manier aan die hoek. Eksperimenteer tot jy agterkom
wat die kurpers daardie dag verkies.
Sommige hengelaars knyp die wurm se kop af sodat die
binnegoed kan uitkom, klaarblyklik vir meer lokreuk. As
lokvoer nie werk nie weet ek nie of ‘n paar afkop wurms op
jou hoeke beter sal werk nie. En ‘n lewendige kriewelende
wurm word seer sekerlik makliker raakgesien as ‘n dooie
afkop wurm.
Bruinbrood-pap kan ook saam ‘n erdwurm gebruik word, of net
bruinbrood alleen, of bruinbrood gemeng met maroek. Probeer
gerus ook Tigernut deegmeel gemeng met bruinbrood. Dis die
tweede seisoen dat dié Tiger deeg en bruinbrood mengsel
goeie resultate behaal. ‘n Kombinasie van “floaties” en
erdwurm kan ook gebruik word.
By Renosterkop werk mielie maroek en erdwurm met ‘n kaboem
mieliepit uitstekend. Vra maar vir die plaaslike hengelaars
- Hulle hanteer ook die informele plaaslike brouery. Kaboem
pitte is harder as blikkie pitte en word gevolglik nie so
maklik van die hoek afgehaal nie. (Roodeplaat, naby
Pretoria, se groot karp is ook dol oor kaboem pitte, en
natuurlik “peanuts”, veral snags).
Doop gerus ook die aas in rooi/pers floro kleursel of
hoender bloed. Bloed is die enigste reuk wat alle vis kan
ruik. Die enigste probleem is dan dat babers ook graag saam
eet.
Twee van my klante was die begin van Januarie 2006, net na
die eerste groot reën, by Renosterkop. Alhoewel dit gewemel
het van die vis, was hul baie traag om te byt. Teen elfuur,
met net een kurper in die net, was die manne heeltemal
moedeloos, en uit pure frustasie gooi hulle toe ‘n vol
bottel CSL stroop (boldip) in die water. Sowat twee uur
later het hulle opgepak, elkeen met sy kwota van tien vis.
Vir diegene wat nie weet nie – CSL is ‘n natuurlike bron van
Betaine wat die brein prikkel om sodoende ‘n eetlus op te
wek. Dit laat selfs volgevreete vis dink hulle is honger. En
dit geld vir alle vis.
KUNSAAS
Karp hengelaars vang al lankal, terwyl
hulle wag vir byte om te ontwikkel, swartbaars met kunsaas.
Nou kan hulle, by die regte waters, gerus ook ‘n kunsaas of
twee vir kurper probeer. Swaailemme kan met groot sukses vir
kurpers gebruik word. Veral die groottes sal ‘n swaailem wat
diep gewerk word, gretig aanval. Om swaailemme diep te laat
loop gebruik jy ‘n “split shot” of twee, ten minste ‘n meter
voor die spinner vir gewig. Die geheim is om die swaailem so
na as moontlik aan die vis te kry. In water wat baie
struktuur soos ou bome ens. het, moet die swaailem so na aan
die struktuur as moontlik gewerk word.
Verskillende swaailemme in nommers 1,2 en 3 werk goed. Die
alombekende “Black fury” namaaksels met geel of rooi kolle
is uitstekend en relatief goedkoop.
‘n Loodkoppie, met ‘n 2.5cm deurskynende plastiese wurmpie
(curly tail) aan, kan ook met sukses aangewend word. Dit
word bloot tot op die bodem laat sak en dan word dit op en
af getol.
By Rust de Winter se inloop is daar gedurende 2005 terwyl
daar vir baars gehengel is, ‘n hele paar een en ‘n half
kilogram en groter kurpers gevang met “Mini teaser”
kunsvissies. Dis ‘n kunsaas wat gerus meer gebruik kan word
vir groot bloues. Probeer dit gerus.
Indien u probleme ondervind met die aankoop van enige van
die bogenoemde produkte of enige ander hengel produkte, is u
welkom om ons te kontak. Ons versend landswyd en het ook ‘n
handleiding om met erdwurms te teel. Kontak ons gerus by
henkor@absamail.co.za
of Tel: 012-3320179 (k/u).
|