|

Rikus van Zyl - 14kg+ Spieëlkarp, Hartbeespoort Dam
|

Rikus as
spesiehengelaar. Dié is maar net 'n
paar van die visse wat hy reeds gevang het |
Ek het Rikus op ons heel eerste
OutdoorPAGES spesiekarphengel seminaar by Rushmere ontmoet.
Rikus se aangename persoonlikheid en passie vir die sport
het gemaak dat hy baie vinnig vriende gemaak het, selfs tot
in die boonste kringe van spesiekarphengel.
Sedertdien het hy talle sessies met legendes soos Hennie du
Preez, Gilbert Foxcroft en ander gedoen, maar tog het hy nog
altyd 'n lae profiel gehou. Al waanneer ek van Rikus hoor is
as daar iets verkeerd is, soos dié artikel wat hy onlangs
vir my gestuur het.
Rikus het 'n hengelsessie by Doorndraai
gedoen en wat hy daar gevind het was skokkend en werd om
ernstig opgeneem te word.
Rikus vra dat ons in die toekoms noukeurig moet dink voordat
ons enige inligting oor ons grootvis-damme aan die massas
bekendmaak. Na aanleiding van sy verslag het ek hom belowe
dat OutdoorPAGES ons deel sal doen.
Hoekom is spesiehengelaars altyd so geheimsinnig? Dit is seker die mees algemene vraag wat aan
spesiehengelaars gestel word. Ek kan julle vandag verseker
dat dit beslis nie is omdat hulle nie inligting wil deel
nie. Dit is bloot oor die risikos wat daaraan verbonde is
deur almal te vertel waar en hoe om die grotes aan te keer.
Wat by Doorndraaidam gebeur het is 'n perfekte voorbeeld...
Vroeg in 2008 het 'n artikel in 'n tydskrif verskyn wat
handel oor Doorndraai dam se groot karpe. Verskeie fotos van
karpe bo 12 kg het dadelik groot belangstelling in die dam
veroorsaak, soveel so dat die telefone onophoudelik gelui
het met navrae oor hoe om daar te kom, watter aas om te
gebruik, ens.
Slegs dae na die artikel verskyn het, het honderde
hengelaars van regoor die land op die dam toegesak, en dit
is presies waar die moeilikheid begin het.
Doorndraai dam is nie 'n maklike dam om by te hengel nie.
Inteendeel, dit was nog nooit onder die massas as 'n
karphengeldam bekend nie. Selfs hengelaars in nabygeleë
Potgietersrus en Naboomspruit het nie by die dam gehengel
nie. Die wat wel daar gehengel het, het kurper geteiken.
Doorndraai dam het verskriklik baie haakplekke op sekere
plekke. Jy moet hom goed ken om werklik sukses te behaal en
jy moet die regte gerei hê.
'n Paar weke na die artikel sy verskyning gemaak het kry ons
die eerste slegte nuus op die OutdoorPAGES Forum. Volgens
die verslag het een hengelaar twee karpe gevang en
doodgemaak. Die een het oor die 18 kg geweeg!
Verskeie klagtes het daarna gevolg. Die meeste het gehandel
oor karpe wat gevang en nie vrygelaat is nie, asook talle
merkers wat deur hengelaars agtergelaat is wat die karakter
van die dam heeltemal geskend het.
Rikus van Zyl het na een van sy hengelsessies met
OutdoorPAGES in verbinding getree en van die probleme met
ons bespreek.
Terwyl Rikus daar gehengel het, het hy by een kampie 'n
klomp hounette in die water opgemerk en het hy besluit om
ondersoek in te stel. Spesiehengelaars gebruik glad nie
hounette nie en al wat dit beteken het was dat die betrokke
hengelaar net daar was om die groot visse te vang met die
doel om hulle te verwyder.
Met sy aankoms het hy hom voorgestel en oor algemene dinge
gesels. Op 'n tafel het hy 'n paar tydskrifte opgemerk,
almal oop op verkeie artikels wat handel oor Doorndraai dam.
Kort daarna het die gesprek gehandel oor die groot vis van
Doorndraai en dit was nie lank nie toe wil die hengelaar
spog met sy vangste.
Groot was Rikus se verbasing toe hy die groot karpe sien wat
in staalhokke aanghou was. Die een karp was ten minste 16
kg!
Om 'n lang storie kort te maak. Die hengelaar se aas was
verkeerd, sy gerei nie op standaard nie en boonop hengel hy
vir die pot. Dit is beslis een hengelaar wat jy nie kan
bekostig om te vertel van grootvis-damme nie, maak nie saak
wat nie!

'n Paar fotos wat enige spesiehengelaar sal ontstel. Kliek
om te vergroot
|
Suid Afrika is nog glad nie gereed om sulke inligting mee te
deel nie. Die bewyse is daar. Elke keer as 'n grootvis dam
aan die massas bekendgestel word, sak hulle toe op die dam
en honderde groot visse bly in die slag.
Spesiehengelaars kan tans nie bekostig om hulle strategië
met die algemene publiek te deel nie. Hier volg 'n paar
redes:
1. Al die hengelaars in Suid Afrika het nie dieselfde vang
en vrylaat beginsels nie. Daar is steeds baie hengelaars wat
nog nie weet hoe belangrik dit is, of watter voordele dit
inhou vir hengel in Suid Afrika, om vis bo 10kg vry te laat
nie.
2. Sekere van die tegnieke wat ons gebruik en plekke wat ons
hengel vereis hoë vlakke van kundigheid en
verantwoordelikheid. Daar is min mense wat weet hoe om vir
groot karp naby struktuur te hengel. Daar is ook baie
hengelaars wat glad nie die kundigheid het om 'n 15kg + vis
suksesvol te land en vry te laat sonder dat die vis
beserings opdoen nie.

Rikus doen die regte
ding |
3. Sekere damme het 'n beperkte hoeveelheid groot karp wat
vereis dat ALLE vis vrygelaat moet word. Ons kan nie toelaat
dat mense wat vis wil huistoe vat daar hengel nie.
4. Van die hengelaars wat uitvind van die grootvis-damme,
weet nie eers hoe om die aas behoorlik voor te berei nie.
Sommige hengelaars weet glad nie eers hoe nadelig dit vir
karp is om met rou tigernuts, mielies en bone te voer of te
hengel nie. Ek praat nie net van die een of twee visse wat
gevang en doodgemaak word nie, maar die ander 20+ wat
potensieël kan vrek as gevolg van die rou partikels in die
voerplek.
Bogenoemde faktore dra daartoe by dat ons groot karpe se
bestaan in gedrang is as die verkeerde mense by die
grootvis-damme toegelaat word.
Doorndraai Dam is na my mening dié mooiste dam in Suid Afrika. Na
die artikel is letterlik honderde merkers en toue asook
duisende meters vislyn uit die dam verwyder deur
spesiehengelaars soos Rikus. Let wel, deur spesiehengelaars
en nie deur die morsjorse wat hulle daar geplant het nie.
Die dam was nog nooit in so 'n slegte toestand soos nou nie.
Spesiehengel is nog besig om te groei. Eers as al die
hengelaars op dieselfde golflengte is kan ons begin om sulke
waardevolle inligting met onbekende hengelaars te deel. Tot
dan sal spesiehengelaars geheimsinnig bly en die inligting
net deel met die mense wat vertrou kan word. Dis is 'n jammerte, maar tog nodig as ons enigsins ons
grootvis-damme wil bewaar.
-----------------------------------------------------------------------------------------
Tot dusver het niemand werklik moeite gedoen om hierdie
probleme daadwerklik aan te spreek nie. Ja, verskeie
hengelaars het natuurbewaring gebel en ja, 'n paar briewe is
aan tydskrifte geskryf (wat dalk nie eers gepubliseer is
nie). Wat het dit gehelp?
Die
Suid Afrikaanse Karp Vereninging of South African Carp
Society sien hierdie voorbeeld as 'n tipiese uitdaging.
As ons hierdie geveg nie in getalle gaan wen nie, sal
niemand dit wen nie.
|