|
Gilbert se artikels is nou op CD beskikbaar. Die CD werk op enige rekenaar
met Microsoft Windows 95 of hoër en bestaan uit dertien hoofstukke (60
bladsye) wat gevul is met hope fotos, illustrasies, wenke, resepte en
tegniese inligting. Bestel die CD aanlyn
of stuur 'n e-pos aan
info@outdoorpages.co.za. |
deur
Gilbert Foxcroft |
|
|

Gilbert met 'n karp van 16.45
kg |
Soos ek in die vorige hoofstuk genoem het is die opsporing van karp
die enkele belangrikste oorweging wat in aanmerking geneem moet word
om suksesvol te wees. Dit is verkeerd om te dink dat daar net een of
twee plekke by ‘n sekere dam is waar jy suksesvol gaan wees en as jy
nie in een van hierdie plekke is nie gaan jy net sit en kampeer. Dit
is wel waar dat karp in groepies net in sekere areas van die dam
gevind sal word gedurende die winter maande, maar daardie areas moet
eers opgespoor word en dit is wat hierdie metode van karphengel so
opwindend maak. Die teenoorgestelde is natuurlik waar vanaf Augustus
to Maart.
Voordat ek verder gaan wil ek verduidelik waarom ons somtyds vir tot
24 maande op een dam konsentreer en dan eers ‘n ander dam opsoek. Om
gereeld suksesvol te wees moet jy die water van binne sowel as buite
ken en ook weet watter tye produktief is! Jy kan dit nie leer in een
of twee besoeke nie en dit geld vir die verskillende areas om die dam.
Die antwoord is om metodies te werk te gaan en al die moontlike
hengelplekke uit te toets en dit neem tot 12 maande van gereelde
hengel om ‘n volledige prentjie te vorm. Dit is waarom ek 24 maande
genoem het. Deur van een dam na ‘n ander rond te spring kry jy geen
idee van die beweging van die visse en ook nie van die produktiewe tye
nie. Jy kan baie gelukkig wees en sukses behaal met jou eerste sessie,
maar dit kan ook tot mislukking op mislukking lei.
METODIESE BEPLANNING
KEUSE VAN DAM / RIVIER
Voordat jy jou keuse maak moet jy jouself die vraag afvra: “Waarom wil
ek juis by hierdie dam gaan vang?” Die antwoorde kan eindeloos wees,
maar die grootste oorwegings sal distansie, toeganklikheid en
hengelbaarheid wees. Natuurlik sal distansie heel bo aan jou lys
verskyn, want dit is nie moontlik om 2 of 3 naweke ‘n maand so ver as
500 km te ry om te gaan hengel nie. Ek hengel gewoonlik 2 tot 3 naweke
‘n maand (Vrydag – Sondag) en ry vir dit nie sommer meer as 200 km ver
nie, veral nie as ek ‘n 12 – 24 maande program by ‘n dam volg nie.
‘n Ander oorweging kan ook die grootte van die vis wees. Die meeste
van ons wil die grootste karp moontlik vang, maar wil ook konstante
aksie kry. So, ‘n goeie bron van inliging is tydskrifte soos Stywe
Lyne, Web Tuistes en jou lokale koerante wat van tyd tot tyd berigte
oor vangste publiseer.
Reg, jy het nou besluit jy wil gereeld groot vis vang maar jy moet nou
besluit of hierdie dam wat jy in wil hengel geskik is vir jou
doelwitte of nie. Indien jou antwoord JA is, het jy ‘n hengelplek.
Maar moenie mismoedig word as jy nie suksesvol is met jou eerste
sessie nie, want dit is waarom ons ‘n lang program be-oefen. Dit is
hier waar aanhouer wen tot sy reg kom. Deur by een enkele dam te
hengel vir ‘n tydperk, leer jy die dam en al sy buie ken en dit is
goed om so kennis op te doen. Jy leer wat werk en wat nie, hoe die
weer die vis beïnvloed en die belangrikste is waar jy sukses behaal en
waar nie.
‘n Dam of rivier naby aan jou huis maak die saak soveel makliker want
jy kan dit baie meer gereeld besoek en jou kanse op sukses verdubbel.
Maar die feit bly staan dat die keuse van die regte dam / rivier baie
belangrik is, want jy kan nie vang wat nie daar is nie, al is dit op
jou voorstoep. Dit is baie belangrik om verseker te weet dat die dam
waarin jy hengel of wil hengel beskik oor die potensiaal waarna jy
soek. Daar is verskeie maniere om op so ‘n dam af te kom, kom ons kyk
hoe:
TOEVALLIG
Dit kan per toeval wees dat jy op ‘n dam afkom wat medium tot groot
vis bevat, soos byvoorbeeld Florida meer wat net 9 minute se ry van my
huis af is.
BOEKE EN KOERANTE
Hou lokale literatuur dop, want elke nou en dan verskyn daar artikels
met fotos wat bruikbaar kan wees. Natuurlik hoe ouer ‘n dam is hoe
beter. Jy moet ook kyk na die dam se opvangsgebied. Vind uit of die
dam al ooit leeg was en indien wel hoe leeg.
SINDIKAAT DAMME
Dit is nog nie so bekend in Suid-Afrika nie, maar daar bestaan
byvoorbeeld die Donaldson Sindikaat (‘n Sindikaat vir elkeen van die
twee damme in die kompleks) naby Randfontein. Hier betaal jy tans
tussen R1,200 en R1,700 per jaar om daar te hengel, maar met ‘n streng
vang-en-vrylaat reël. In Engeland is dit baie bekend en suksesvol
aangesien daar totale beheer oor die vang en vrylaat van visse
uitgeoefen word.
LEER DIE DAM KEN
As jy erg is oor jou kanse op sukses en jy betaal goeie geld om by so
‘n plek te hengel dan moet jy alles in jou vermoë doen om soveel
moontlik oor hierdie plek uit te vind. Hoe meer jy weet hoe beter.
ARTIKELS IN TYDSKRIFTE
Indien dit gebeur dat jy op ‘n artikel of twee afkom waarin
besonderhede oor die betrokke dam verklap word, moet jy dit as
beginpunt gebruik vir jou strewe na groot vis.
MEDE HENGELAARS
Stel jouself voor aan die manne wat al vir ‘n geruime tyd daar hengel.
Hulle sal aan jou fynere besonderhede kan verskaf soos, waar die
meeste vis gevang of gesien word, hoe gereeld die vis gevang word en
natuurlik watter metodes die beste werk.
BESOEK DIE WATER SELF
Daar is geen beter manier van inligting insamel nie as om self
eerstehands te gaan kyk nie. Moet nie net daar opdaag reg om te begin
hengel nie. Met jou eerste besoek behoort jy eers om die dam te gaan
stap (as dit klein genoeg is) en te kyk hoe die oewer lyk. Kyk na die
grandiënte op die kant en skets vir jouself ‘n prentjie. As die dam se
watervlak laag is, is dit eintlik beter want wat op die droë grond
sigbaar is, kan heel moontlik net so onder die water wees. Observasie
is hier baie belangrik, want groot karpe wys presies waar hulle is
(vroegoggend en laat middag), so probeer onthou waar jy die vis sien
spring het wanneer jy vir jou eerste sessie gaan. Ander hengelaars op
die oewer kan jou ook ‘n idee gee van gewilde hengelplekke, maar
moenie dit as wet beskou nie. Ons vang baie keer op plekke waar jy jou
gerei moet dra want selfs ‘n 4x4 kan nie daar kom nie. Dit is areas
waar die vis veilig voel en hulle nie hengeldruk ervaar nie.
JOU EERSTE SESSIE
MOENIE TE GOU JOU KAMPPLEK REGKRY NIE.
Kyk eers waar spring die vis, in watter rigting waai die wind en waar
is die sigbare struktuur. ‘n Vis wat spring dui gewoonlik ‘n eetplek
of struktuur aan, so wees geduldig. Stel eers jou terrein merker op en
gooi een van jou lyne uit met net ‘n sinker aan om te voel hoe die
bodem voel. As jy gereeld vashaak, dan weet jy daar is te veel
struktuur onder die water. Beweeg dan totdat jy nie meer vashaak nie.
Begin dan met jou terrein merker die area fynkam vir diepte en
variasies in diepte.
DIE TERREIN MERKER
|

Die Terrein Merker |
Terrein opsporing is een van vele faktore wat bydra tot die sukses van
ons sport. Dink net; dit gee jou insae oor wat presies onder die water
aan die gang is, dit gee jou insig oor die moontlike posisie van areas
wat karp van hou, waar hulle patroleer en waar die struktuur is.
Terrein opsporing verg nie veel moeite nie, maar die wat dit nie
gebruik nie, weet nie presies wat aangaan daar waar hulle aas land
nie. Dit kan die verskil beteken tussen sukses en mislukking. Jy hoef
nie noodwendig die merkerdobber te gebruik nie. Daar is baie goeie
bekostigbare “echo sounders” op die mark beskikbaar, so al wat jy
benodig is ‘n kano. Die probleen is net dat nie almal kanos het nie en
sommige damme word dit ook nie toe gelaat nie. Dit is wanneer die
dobber metode tot sy reg kom. Kom ons kyk hoe werk dit.
WAT BENODIG EK?
Om terrein opsporing te kan doen benodig ek ‘n merkerdobber (Kostes
wissel tussen R20 – R100), ‘n rubber kraletjie, ‘n 80g – 100g sinker
en ‘n skêr. Onthou dat die sinker nie te klein moet wees nie, want dit
kan die akuraatheid van die diepte beinvloed. Belangrik is dat die
sinker ‘n draaispil aan moet hê, want jou hooflyn word daardeur
gevoer.
OPSTEL VAN DIE MERKER
Sien bygaande skets. Sodra die lyn deur die visstok se ogies gevoer
is, voer jy die lyn deur die ogie van die draaispil, daarna kom die
rubber kraletjie en laastens word jou lyn aan die draaispil, wat vas
is aan die merker, gebind. Ek verkies ‘n kort, dik sinker want dit
bied meer weerstand op die bodem.
BEPAAL DIE DIEPTE VAN DIE WATER
Sodra jy die merker opgestel het, gooi jy die spul so ver jy kan, dan
wen ek die lyn op totdat dit styf is. Ek trek dan die visstok sywaarts
(stadig) en kyk na die visstok se punt vir bewegings. Na elke
trekslag, met die lyn steeds styf, laat ek lyn van die katrol af, een
voet op ‘n slag, totdat ek die dobber sien. Ek skryf dan die diepte
neer op die lyn wat ek op ‘n stuk papier getrek het. Wanneer die
merkerdobber by die oewer is, herhaal ek die hele proses totdat ek die
hele area gedek het. Aangesien ek links-handig is gooi ek eers links
uit. Ek werk altyd baie metodies om ‘n presiese prentjie te kry. Dus
gooi ek eers links uit en werk terug tot by die oewer en stadig beweeg
ek van links tot regs oor my hengelarea.
HOE WEET EK WAT OP DIE BODEM AANGAAN?
Deur ‘n 95gram sinker te gooi en dit weer baie stadig op die bodem
langs terug te wen is baie tydrowend, maar dit kan vir jou meer
duidelikheid gee van wat op die bodem aangaan. Daar is baie metodes om
‘n sinker so terug te wen, maar die effektiefste een is om, nadat jy
gegooi het, die lyn styf te maak met die visstok se punt inlyn met die
vislyn in die water. Beweeg dan die visstok effens skuins opwaarts tot
omtrent 45°. Hou gedurende hierdie beweging jou visstok se punt dop.
Hieronder beskryf ek hoe jy kan onderskei tussen harde, sagte of
watergras bodems.
|

Let op na jou visstok se
punt, dit vertel
meer as wat jy dink |
HARD EN KLIPPERIG
Jou visstok se punt sal rondspring soos die sinker oor die klippies
spring. Hou gerus dop hoe lyk jou sinker na ‘n paar gooie. Dit behoort
kap of krapmerke op te hê.
SILT OF MODDER
Dit herinner my aan die gevoel wat ek sal ondervind as ek ‘n lyn met
‘n sinker oor ‘n wolkombers sou trek. Jou visstok se punt het nie
daardie springerige aksie nie, maar dit sal buig elke keer wat jy die
sinker nader trek. Hoe dikker die silt / modder hoe groter sal die
buig in jou visstok wees.
WATERGRAS
Wanneer jy ‘n sinker deur watergras trek sal jou visstok se punt buig
en skielik terugspring as die sinker uit die watergras kom. Hoe dikker
die watergras, hoe moeiliker sal die sinker uitkom. Dit kan ook gebeur
dat jy ‘n klomp watergras saam met die sinker kan inbring.
SANDERIGE BODEM
Die sinker sal maklik oor die bodem gly sonder dat jou visstok se punt
reaksie toon.
KLEI BODEM
Klei kan jy maklik met die gooi opmerk. Die sinker sal in die klei
ingly en slegs uitkom met ‘n goeie trek.
‘n Ander manier om te voel hoe hard die bodem is, is deur jou vinger
op die spoel te druk ‘n oomblik voordat jou sinker die water tref. Hou
jou vinger op die spoel en voel hoe die sinker deur die water val en
“doef” op die bodem. As die bodem hard is sal jou visstok se punt
terugspring. As die bodem sag is sal dit nie gebeur nie.
‘n Baie belangrike punt wat ek moet beklemtoon is dat jy na elke gooi
jou sinker moet ondersoek. Jy sal somtyds stukkies watergras, modder,
silt of klip merke op die sinker sien. Dit sal jou help om meer van
die dam se bodem te leer.
Jy moet te alle tye jou tekening van die dam se bodem byderhand hou
want so kan jy ook aanteken of die bodem hard of sag is. Nou word jou
prentjie al amper kristalhelder en jou harde werk aan die begin van
jou sessie word nou die moeite werd, al wat nou kort is die karp self.
|

Deur gebruik te maak van die
Terrein Merker kan die bodem formasie, diepte en
strukture en noukeurig gedokumenteer word |
|
|