|
Gilbert se artikels is nou op CD beskikbaar. Die CD werk op enige rekenaar
met Microsoft Windows 95 of hoër en bestaan uit dertien hoofstukke (60
bladsye) wat gevul is met hope fotos, illustrasies, wenke, resepte en
tegniese inligting. Bestel die CD aanlyn
of stuur 'n e-pos aan
info@outdoorpages.co.za. |
deur
Gilbert Foxcroft |
|
Dit is skrikwekkend om te sien hoeveel toerusting tot die
karphengelaar se beskikking is, veral as jy kyk na die Europese
tydskrifte. Daar is letterlik duisende verskillende maatskappye
wêreldwyd wat hengelgerei te koop aanbied, maar dit het beide goeie en
slegte punte, want nie al daardie toerusting is noodsaaklik nie. Die
meerderheid van die items is ongelooflik duur maar as jy alreeds ‘n
stel visstokke en katrolle het is dit goed genoeg om mee te begin. Dit
is elke hengelaar se vrye keuse of hy al daardie mooi duur speelgoed
wil aanskaf al dan nie. Hierdie hoofstuk is nie gemik om enige druk op
jou as hengelaar te plaas om jou bestaande hengelgerei te laat stof
opgaar, net om ‘n nuwe duur stel aan te skaf nie. Dit is bedoel om jou
insig te gee oor wat beskikbaar is, sodat jy jou eie keuse kan maak.
VISSTOKKE
Almal weet wat visstokke is, so ek gaan nie te veel op hierdie punt
uitbrei nie. Wat ek wel wil byvoeg is dat die keuse van ‘n goeie
visstok dieselfde is as die keuse van ‘n motorvoertuig. Jy koop wat
jou sak pas en wat jy bereid is om te spandeer. Ja, almal sal seker
hou van ‘n stel visstokke met ‘n lewenslange waarborg, maar nie almal
hou van pryse van tot R 4500.00 per stok nie. ‘n Visstok van R350.00
pas die meeste hengelaars se sakke egter veel beter.
KATROLLE
My persoonlike voorkeur wanneer dit kom by katrolle, is die Shimano
vastespoel katrolle, maar met honderde ander modelle om van te kies,
val die keuse weereens in jou hande. Losknip katrolle is ook
aanvaarbaar, maar het meer nadele as voordele in die Europese styl van
hengel. Ek het wel opgemerk dat al hoe meer hengelaars gebruik begin
maak van vaste spoel katrolle. Dit maak jou hengel ervaring net
makliker.
ALARMS EN VERKLIKKERS
Tot onlangs toe was dit ‘n kopkrap storie om te bepaal wanneer ‘n karp
jou aas optel, veral in die nag. Baie visse is al verloor omdat die
hengelaar te laat besef dat sy katrol op loop gesit het en teen die
tyd dat hy daar kom, sit die lyn iewers vas. Hier het tegnologie tot
ons redding gekom met elektroniese- en digitale alarms wat tot 120
desibels klank kan genereer. Nie net is hierdie alarms ‘n wenner vir
die vang van vis nie, maar verras ook potensiële diewe wat jaarliks
vele hengelaars se lewens versuur. Die beginsel is heel eenvoudig en
werk met ‘n rubber wieletjie waarop jou vislyn rus. Net die geringste
beweging van die lyn laat die alarm ‘n hoë spitsgeluid maak. Omdat die
alarms so sensitief is, is die gebruik van ‘n verklikker (poliesman)
wat ‘n gewig het, noodsaaklik. Weereens is daar bykans een honderd
modelle om van te kies, en die pryse wissel dan ook vanaf R 199.00 tot
bykans R 2300.00 stuk. Plaaslike gereiwinkels soos African Gold Carp
Shop en Western accessories verkoop goeie alarms vanaf R199.99.
Hierdie alarms is ook meestal waterdig en is veral doeltreffend in die
reën, wanneer die geluid van reën op die tent / karavaan ‘n lopende
katrol se geroep totaal en al kan demp.
VISSTOK STAANDERS
Daar is ongeveer 200 modelle wêreldwyd beskikbaar, met prysklasse wat
wissel tussen R 500.00 en R 6500.00 stuk. Neem net in ag dat die rede
vir hierdie belaglike pryse die wisselkoers se skuld is, aangesien al
hierdie modelle ingevoer word. Die voordeel van die staanders is dat
dit netjies vertoon, maklik en vinnig opslaan, klein opvou, van
duursame materiaal vervaardig is (meeste is van vlekvrye staal) en die
grootste voordeel is dat dit op enige terrein opgeslaan kan word (styl
hellings, klippe ens.). Nog ‘n verdere voordeel is dat jy die staander
met visstokke en al kan optel en dra na ‘n ander hengeplek en dit
sonder moeite.
TENTE EN SKUILINGS
|

'n Tipiese skuiling
|
Die hengel omstandighede in Suid-Afrika is totaal anders as die in
Engeland. Die rede daarvoor is dat die Pommies nie hulle voertuie tot
by die water mag bring nie. Hulle moet somtyds tot 1km ver stap met al
hulle toerusting om by die water te kom. Dit is die groot rede waarom
die meeste van hulle toerusting so kompak vervaardig word, sodat hulle
met so min moeite moontlik oor die weg kan kom. Hier by ons is ons
geseën deurdat ons met ons voertuie kan ry amper net waar ons wil. Dit
beïnvloed ons kampeertoerusting en die gemak waarop ons kan kampeer.
As jy so gelukkig is om ‘n trok te besit (by wyse van spreke), kan jy
feitlik jou hele huishouding saam neem dam toe. Die Europese tente en
skuilings is lig en gemaklik, maar grotendeels gemaak vir ‘n enkele
hengelaar, nie vir die familie man nie. Die safari tipe tente en
karavane hier is wel groot en dikwels swaar, maar soveel meer gemaklik
al is dit meer moeite om op en af te slaan.
SKEPNETTE
|

Skepnette
|
Hier is die Engelse ons meer as een voor en dit kan nie betwyfel word
nie, veral as dit kom by groot vis. Soos ek in my eerste artikels
verduidelik het is die bewaring van groot karpe van uiterste belang en
om daardie bewaring tot sy reg te laat kom is dit belangrik om die vis
vandat hy genet word tot hy weer vry gelaat word op te pas. Die fyn
“micro mesh” materiaal is sag en die gaatjies is klein genoeg om te
verhoed dat die vis se skubbe en oë seerkry, maar is ook sterk genoeg
om die vis te ondersteun tot by die onthoekmatras. Geknoopte nette het
die geneigdheid om die skubbe en oë van veral groot visse te beskadig.
Hierdie skade kan gevolglik lei tot onnodige infeksies wat weer
uiteindelik tot die vis se dood kan lei. Die idee is om die vis terug
te plaas in dieselfde toestand as toe hy gevang is, of selfs beter.
Hierdie nette is baie maklik bekombaar, maar jy kan selfs jou
bestaande net omskep in ‘n veilige vis-vriendelike item deur net die
net gedeelte by jou plaaslike gereiwinkel te bestel. Sou jy ‘n nuwe
net wil aanskaf kan jy weereens kies uit ‘n wye verskeidenheid.
VISLYN
Ek het my voorkeure en so ook julle, so ek gaan net noem dat ek twee
verskillende tipes lyn gebruik in verskillende situasies. Eerstens
verkies ek Berkley se Big Game (12-16 pond breekkrag) vir oop-water
hengel en Berkley Fire-line (14 pond) vir hengel tussen strukture.
Fire-line is duur, maar is uitstekend wat breeksterkte en gebruikslewe
aanbetref.
ANDER ITEMS
Ander tipes gerei wat ons gebruik, maar wat ek nie in diepte gaan
bespreek nie, is Aasbote, Kanos en “Echo-sounders” (ons almal weet hoe
dit gebruik word).
KETTIES
Ketties word gebruik om tydelike voerplekke oor kort afstande te maak,
sonder die gebruik van ‘n kano of aasboot. Dit word gewoonlik gebruik
om boilies, voerbolle en saad-ase kort distansies ver uit te skiet.
Die voordeel van die kettie is dat dit baie akkuraat is tot op so 60
meter, maar meer belangrik is dat veral boilies en saad-ase sonder ‘n
groot geraas in die water te lande kom en sodoende nie vis in die area
verjaag nie.
GOOI STOKKE (PYPE)
Dit is ontwerp vir die uitsluitlike gebruik van boilies. Die idee is
baie eenvoudig en al wat dit is, is ‘n pyp wat ‘n geronde vorm het en
‘n handvatsel aan die ander end. Jy plaas ‘n boilie in die pyp en
verbeel jou dat jy ‘n krieket bal in die dam gaan ingooi. Jy sal
verbaas wees hoe ver jy ‘n boilie op die manier kan gooi, en binne ‘n
kort tydjie kan jy heelwat boilies akkuraat voer.
AAS VUURPYLE (BAIT ROCKETS)
Dit word gewoonlik gebruik om kleiner aas items oor lang distansies te
voer sonder die gebruik van ‘n kano of aasboot en word meestal in
Europa tydens kompetisies gebruik. Dit werk baie maklik, al wat jy
doen is om ‘n stywe visstok te gebruik en jou hooflyn aan die
draaispil, wat aan die vuurpyl vas is, vas te maak. Maak dan die
vuurpyl twee derdes vol voer en dip dit dan regop in damwater om die
ander derde vol water te kry. Die gewig van die water hou die voer in
die vuurpyl tydens die vaart deur die lug en wanneer dit te lande kom,
dop die vuurpyl automaties om en gooi die voer af. Herhaal dan hierdie
proses so veel as wat jy nodig ag om die voer plek te maak. Die aas
vuurpyl het ‘n stuk polistireen binne om dit te kan maak dryf, so vir
die kompetisie manne daar buite is dit miskien iets vir die toekoms.
WEEGSAKKE
|

Die weegsak en skaal
|
Moet nooit ‘n karp aan sy kiewe ophang om sy gewig te bepaal nie, dit
kan tot sy dood lei. Gebruik eerder ‘n weegsak. Weereens kan dit van
dieselfde materiaal as die onthoekmatras se sloop gemaak word, maar
vou die materiaal dubbel en werk dit so dat dit feitlik ‘n hangmat
effek het. En onthou om jou weegsak nat te maak voor jy jou skaal zero
en jy die vis weeg. Jy wil tog nie die beskermde slym laag op die vis
se flanke afskuur nie (dit kan infeksies veroorsaak).
ONTHOEK MARTASSE
WAT IS DIT ?
Wel, in eenvoudige terme is dit presies wat die naam voorstel. Dit is
‘n matras wat gebruik word om die vis op neer te sit as dit klaar
genet is en dit op die wal beland vir die hoek om verwyder te word.
Dit behoort standaard toerusting by elke varswater hengelaar te wees.
Daar is weereens baie verskillende modelle op die mark beskikbaar,
maar ek sal aan julle verduidelik om maklik een by die huis te maak.
Eers moet ons die vraag vra van waarom dit so belangrik is om ‘n
onthoekmatras te hê. Die antwoord behoort baie eenvoudig te wees en
dit is dat die vis ons belangrikste oorweging is en hoe minder stres
en beserings die vis op die kant opdoen, hoe beter.
HOE MAAK ONS ‘N ONTHOEKMATRAS?
Gaan kyk eerstens by matras winkels of tweedehandse baba winkels vir
‘n gewone baba matrassie (die tipes met al die klein prentjies op).
Gaan dan na ‘n materiaal winkel en vra vir luidspreker materiaal
(“speaker material”). Dit is ‘n swart materiaal met klein fyn gaatjies
in. Laat jou vrou/ma/meisie dan ‘n sloop maak met ‘n plastiese rits
sluiter aan die een kant en pas die matrassie binne-in. En siedaar,
jou eie onthoekmatras, goedkoop en voldoende. Die idee van die sloop
is om die slymerigheid wat die vis agterlaat na gebruik af te was en
die sloop (indien jou ma/vrou dit sal toelaat) deur die wasmasjien te
sit. Hou dan ook altyd ‘n skerpbektangetjie byderhand ingeval die hoek
moeilik is om uit die vis se bek te verwyder.
ANTI-SEPTIESE OPLOSSINGS
Alle varswater visse is geneig tot roof-infeksies wat veroorsaak word
deur ‘n wye verskeidenheid organismes en dit gebeur heel jaar lank.
Hierdie infeksies kan veroorsaak word deur bakterië, fungus, virusse
of self pathogene en dit is gewoonlik die gevolge van onnatuurlike
beskadiging buite die vis se liggaam. Enige oop wond kan vatbaar wees
vir infeksies, so dit is baie belangrik dat jy ‘n botteltjie Kryston
Kli-Nik of net gewone soutwater oplossing (saline solution) in jou
viskas aanhou. Onthou net dat enige oop wond uiteindelik tot die vis
se dood kan lei en dit wil ons nie hê nie. As jy ‘n vis vang en daar
is selfs ‘n beskadigde skub of twee, doen dan eerder die moeite en
plaas ‘n bietjie anti-septiese vloeistof op die wond en los dit vir
ongeveer ‘n minuut om in die wond in te trek. Dan eers is dit veilig
om die vis vry te laat. Hou net in gedagte dat ‘n gesonde vis weer op
‘n dag genot aan iemand kan verskaf, maar ‘n beseerde vis mag dalk
nooit weer ‘n aas optel nie.
HOUSAKKE
Dit is eenvoudig ‘n sak wat van dieselfde swart luidspreker materiaal
gemaak is. Die sak moet verkieslik ongeveer 1,2 meter by 70 cm in
grootte wees om die vis gemak van beweging te gee en om hom te
kalmeer. Net een karp behoort in so ‘n sak geplaas te word en ook net
vir so kort ‘n tyd as moontlik. Die idee van die karp sak is om jou
tyd te gee om die kamera nader te trek of om ‘n medehengelaar te roep
om die vis te help weeg, ens. Omdat otters in die meeste van ons damme
teenwoordig is, is dit baie belangrik om hierdie prosedure so gou
moontlik af te handel en die vis vry te laat.
|